Welkom by Alkantmooi-selfsorgverblyf in Plettenbergbaai

Hoog op 'n heuwel by die pragtige Plettenbergbaai is 'n tuiste met uitsig wat vir ewig aanhou. Dit is heel gepas dat dié huis Alkantmooi heet, want hy kyk werklik na alle kante uit oor berge, riviere en die oseaan.

Alkantmooi, 'n luukse vierster-woonstel met twee slaapkamers en eie private ingang, is afgeleë tog maklik bereikbaar en bied gerieflike selfsorg-verblyf wat reg in die smaak van natuurliefhebbers sal val. Die idilliese ligging van Alkantmooi - omring deur welige plantegroei en stapafstand van die Keurboomsrivier-Natuurreservaat - maak dit maklik om aan verskeie buite-aktiwiteite deel te neem. Dit is naby die rivier en in beskermde fynbos met 'n ryk verskeidenheid van voël- en dierelewe.

Alkantmooi bied die beste van twee wêrelde: Dit is net 6km van Plettenbergbaai - naby genoeg om gou voorraad aan te vul, maar afgeleë genoeg om vrede en stilte te geniet. Die uitsig kan geniet word vanaf die onderdak-houtdek met sy gasbraaier en potspeltafel wat ure se pret kan verskaf.

Wanneer die natuurskoon van Alkantmooi en die Keurboomsrivier-vallei verken is, wag die ongerepte strande van Plettenbergbaai en die kusdorp se verskeidenheid van toeriste-attraksies, puik restaurante en interessante winkels. Nie te ver padlangs nie is daar The Crags, 'n gebied wat bekend is om enigiets van olifante, ape, voëls en wilde katte tot vonkelwyn, pottebakkery en 'n teater in 'n plaasskuur.

Van Alkantmooi af is dit maklik om op die N2 te glip en die Tuinroete en omliggende gebied te verken. Net 'n dagrit hiervandaan is die wêreld se hoogste openbare bungee-springplek, die grootste grotkompleks in Afrika, haaihok-duikekskursies, walviskyk, die Tsitsikamma-bos en nog veel meer. Die streek kan ook spog met nie minder nie as 14 topklas-gholfbane.

Kom en laat die natuurskoon van Alkantmooi se omgewing jou betower en 'n nuwe uitkyk op die lewe gee. Jy weet nooit: Op 'n helder dag sien jy dalk vir ewig.

Tuisblad
Akkommodasie
Bespreek aanlyn
Plettenbergbaai
Dinge om te doen
Foto's
Kontakbesonderhede
Kaart & Aanwysings
Navrae-blad


Foto’s van Woonstel
Klik om `n groter foto te sien




Site designed by
S2 Web Solutions